Sport

Hoërskool Noord-Kaap het sedert 1943 saam met die huidige Hoër Tegniese Skool Kimberley, bekend gestaan as die Tegniese Kollege Noord-Kaapland.  Dit het in Desember 1975 tot ‘n einde gekom toe hierdie gesamentlike beroepskool uitgebrei is na die HTS Kimberley en die Hoër Handelskool Noord-Kaap.  In 1987 het Hoërskool Noord-Kaap soos ons hom nou ken, tot stand gekom na veranderinge rakende die kurrikulum.  Vandag is Hoërskool Noord-Kaap ‘n toonaangewende dubbelmedium en multikulturele skool wat op akadamiese-, sport- en kulturele gebiede uitblink en aan leerders ‘n wye verskeidenheid aktiwiteite en geleenthede bied om hulself uit te leef en tot hul volle potensiaal te presteer.

 

Reeds ten tyde van die Handelskool se dae het Noord-Kaap se netbal stelselmatig begin ontwikkel in van die beste in die provinsie.  HNK se netbal het van krag tot krag gegaan en later ‘n gereelde provinsiale kampioen in die verskeie ouderdomsgroepe geword.  Die spanne ding jaarliks by van die grootste toernooie in die land mee en lewer talle provinsiale spelers op.  Jessica du Plessis is die skool se mees onlangse nasionale verteenwoordiger en het die Nasionale o/20 span verteenwoordig en aangevoer.

 

Krieket by Noord-Kaap het uit die staanspoor belowende prestasies behaal, maar sedert 2005 werklik begin om homself as die top krieketskool in die provinsie te onderskei.  HNK is reeds sedert die kompetisie se aanvang in 2010 die Noord-Kaap provinsie se wenner van die Nasionale T20 kompetisie.  HNK het ook op drie geleenthede deurgedring as die Knights-franchise wenner – in 2010, 2011 en 2012.  In 2010 behaal die span ‘n algehele 6de plek, terwyl hulle in 2011 en 2012 as naaswenners geïndig het.  HNK lewer ook by verre die meeste provinsiale spelers jaarliks op uit al die skole in die provinsie en spog ook met NEGE SA Skole en SA Colts spelers, asook een SA Vrouespeler.   Die mees bekende krieketspeler is die huidige Protea-speler, Reeza Hendricks.

 

In 1992, onder leiding van mnre. John Bond en Hannes Esterhuizen (destydse onderwysers), ding HNK vir die eerste keer in ‘n skoleliga mee.  Aanvanklik sukkel hulle teen die meer gevestigde skolespanne, maar met harde werk en vasberadenheid vestig hulle hulself vinnig as ‘n krag in Griekwaland-Wes skolerugby.  Hierdie twee kenmerke bly HNK rugby sedertdien by en lei tot deurgaanse groei en ontwikkeling.  Dit het ook gesorg dat Noord-Kaap vandag as die toonaangewende rugbyskool in die provinsie gereken word.  Noord-Kaap was die laaste dekade sonder twyfel die mees suksesvolle rugbyskool in die provinsie met die hoogste posisies op verskeie nasionale ranglyste, asook die meeste titels in die Sentrale streek se Kovsie-liga.  HNK het tussen 2009 en 2017 ‘n totaal van SEWE keer die Kovsie-liga trofee gelig en die Kimberley Classic Clashes teen Diamantveld NEGE keer tussen 2006 en 2017 gewen.  Op ‘n top 50 ranglys deur “Schoolboy Rugby blog” word Noord-Kaap as nr. 8 op dié ranglys vir die tydperk tussen 2009 en 2012, geplaas met ‘n totaal van 53 oorwinnings uit 58 wedstryde.  In 2017 eindig die eerste span ook weer in die top 20 spanne op verskeie ranglyste.  Noord-Kaap lewer jaarliks tussen 30 en 40 provinsiale spelers op.  HNK se bekendste rugbyspelers sluit in: Ronnie Cooke, Riaan Swanepoel, PJ Vermeulen en meer onlangs, Cameron Hufke (SA Skole “A” 2016).

 

Dit is egter nie al wat HNK bied nie.  HNK bied ook aan leerders die volgende sporte:

  • Seuns- en dogtershokkie – HNK se hokkiespanne domineer die provinsiale hokkieligas vir langer as ‘n dekade en lewer jaarliks die meerderheid van die provinsiale spelers op;
  • Atletiek – HNK presteer jaarliks uitstekend op die atletiekbaan en –veld en het jaarliks talle verteenwoordigers by die Nasionale kampioenskappe;
  • HNK het vanjaar ses atlete op die SA Byeenkoms gehad en in totaal ses medaljes verower;
  • Pluimbal – pluimbal in die provinsie het deur HNK ‘n herlweing ervaar met ons spanne wat die provinsie die afgelope twee jaar op die Nasionale toernooie verteenwoordig;
  • Tennis – HNK lewer jaarliks 5 – 10 provinsiale spelers op;
  • Dogterskrieket – HNK is trots daarop dat ons die toonaangewende skool in die provinsie is wat dogterskrieket aanbetref met talle provinsiale, asook senior provinsiale spelers;
  • Skiet – HNK kompeteer provinsaal én nasionaal in skiet;
  • Tweekamp – HNK spog jaarliks met provinsiale tweekamp atlete wat puik presteer;
  • Skaak – HNK het drie skaakspanne wat aan verskeie uitnodigingstoernooi deelneem, asook provinsiale deelnemers;
  • HNK erken ook ander sporte wat individueel buite die skoolprogram beoefen word en gee erkenning aan leerders wat daarin presteer, bv. Swem, modelwerk, hengel, landloop, karate en gimnastiek;
  • HNK spog met ‘n Junior Olimpiese gimnas, Karlin van Tonder, in ritmiese gimnastiek.

 

Noord-Kaap bied natuurlik ook ‘n wye verskeidenheid kultuuraktiwiteite en ding met passie en ywer aan verskeie feeste, kompetisies en olimpiades mee.  Dit sluit in onder andere redenaars, debating, public speaking, spelathon en koor.

Daar is ook verskeie kultuurorganisasies waarby leerders kan aansluit soos Rotary Interact, Landsdiens en film- en dramaklub.

 

Hoërskool Noord-Kaap is dié toonaangewende en mees suksesvolle sportskool in die Noord-Kaap provinsie en met sy unieke diversiteit, verskeidenheid aktiwiteite en besonderse gees, onderskei die skool homself van alle ander.